Main menu
Ek glo ek is geskape na die beeld van God.
Omdat ek dit glo, moet ek die goddelike in my medemens erken, eer en respekteer.
Ek glo ek is 'n unieke mens.
Vanweë my uniekheid moet ek met myself vrede maak, myself aanvaar en vriende maak met die beeld in die spieël.
Ek glo om skeppend besig te wees, is die hoogste vorm van menswees.
Om skeppend besig te wees, beteken dat ek elke dag iets moet skep wat nie vroeër bestaan het nie, want ek weet dat ek, wat self 'n skepping is, iets moet doen om die skepping uit te bou.
Ek glo ek het 'n vrye wil met die keuse tot besluitneming.
Hierdie keuse en besluite moet ek in verantwoordelikheid neem, en vir die gevolge daarvan sal ek self borg staan.
Ek glo ek kan, binne die perke van menswees, my omstandighede verander.
Ek moet die omstandighede wat ek kan verbeter, verander en die wat ek nie kan verander nie, blymoedig aanvaar.
As ek waaragtig in hierdie dinge glo, en as 'n vrye mens my goddelike opdrag en my verantwoordelikhede aanvaar, kan ek gelowig die toekoms inwaag en deelnemer wees -
Dit is my strewe om aan die einde van my lewe in ootmoed te kan sê:
"Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voleindig, en ek het die geloof behou." (2 Tim. 4:7)