Doel en regskrag
Ingevolge die bepalings van artikel 8 (1), (2), (3), (4) en (5) van die Suid-Afrikaanse Skolewet 1996, Wet 84 van 1996 moet die beheerliggaam van die skool toesien dat ‘n gedragskode vir die skool daargestel en geïmplementeer word. Elke leerder is onderworpe aan hierdie bepalings en verbind hom/haar tot die nakoming daarvan.
By Hoërskool Bastion maak die gedrags- en dissiplinêre kode aanspraak op elke leerder se positiewe gesindheid en trots teenoor die skool. ‘n Leerder met ‘n positiewe gesindheid moet hierdie kode sien as riglyne vir optrede binne en buite die skool en hy/sy moet hom/haar daarop instel om hierdie kode nougeset na te kon. So ‘n leerder is trots op sy/haar skool, sy/haar skooldrag en die beeld wat hy/sy van die skool uitdra en help bou.
Die gedrags- en dissiplinêre kode is ondergeskikte wetgewing en het regskrag. Dit geld vir leerders wat per definisie as ingeskrewe leerders van Hoërskool Bastion beskou kan word en geld vir alle tye en plekke bv. op busse, tydens sportbyeenkomste, by alle buitemuurse aktiwiteite en in openbare plekke.
Opsommend is die doel van die gedrags- en dissiplinêre kode die volgende :
Om ‘n hoë standaard van onderrig te verseker.
Om ordelike en effektiewe onderrig moontlik te maak en om die leerder te begelei tot die ontwikkeling/verwerwing van selfdissipline.
Om die belange van alle rolspelers te beskerm deur ‘n gesonde etos te verseker.
Om ‘n griewe prosedure te ontwikkel waarvolgens leerders, ouers en opvoeders se griewe dienooreenkomstig hanteer kan word.
Om te verseker dat die strafmaatreëls regverdig en in ooreenstemming met die oortreding sal wees.
Die doel is om ‘n gedissiplineerde kultuur daar te stel sodat leerders, ouers en opvoeders op hoogte sal wees van die reëls en regulasies asook gesamentlik verantwoordelikheid sal aanvaar vir die toepassing en uitvoering van die gedrags- en dissiplinêre kode.
Aansoek om toelating tot die skool
Alle regte om toelating word deur die beheerliggaam van die skool voorbehou. Aansoek om toelating tot die skool word gedoen op die B2-vorm wat by die skool beskikbaar is. By inskrywing moet ‘n oorplasingskaart van die vorige skool, ‘n rapport asook gewaarmerkte afskrifte van die ouers en leerder se ID-dokumente ingedien word. Die leerder en ouers/voogde aanvaar die gedragskode met die ondertekening van die inskrywingsvorm.