LANDSDIENS
Landsdiens is 'n jeugbeweging wat die bewaring van die totale omgewing nastreef. Die beweging is daar vir elke seun of dogter, met klubs by laer- en hoërskole, asook by naskoolse jeuggroepe. Die Landsdiensbeweging bestaan reeds sedert 1914 en is die tweede oudste jeugbeweging vir beide seuns en dogters ter wêreld. Aktiwiteite by Hoërskool Bastion sluit in kampe, uitstappies, opvoedkundige besoeke, handvaardigheidsprojekte, uitstallings, bewaringstake en gemeenskapsprojekte. 'n Toekenningstelsel binne die Landsdiensbeweging beloon hardwerkende Landsdieners ten opsigte van prestasie en leierskapvaardighede. Lede kan selfs die Junior Springbok-toekenning verwerf. Opwindende deelname aan prestige nasionale projekte word aan presteerders op provinsiale vlak gebied. Die Landsdiensideaal word saamgevat in die strewes na: - Liefde vir die Skepper - Liefde vir die Omgewing - Liefde vir die Medemens - Liefde vir die Arbeid
|
REDENAARS Daar is vir die babbelkouse ruim geleentheid om toesprake voor 'n gehoor te lewer. Daar is kompetisies vir individue en vir deelname in spanverband. Navorsing is 'n vereiste vir deelname. Uitdunne word by die skool gehou waarna in alle erns met die voorbereiding van toesprake begin word. Kom leer om voor 'n gehoor op te tree!
|
TONEEL Wat is 'n skool sonder sy akteurs? Daar word elke jaar toneelstukke in beide tale opgevoer. Die tonele neem aan kompetisies deel (soos die ATKV). Die leerders hou van die uitdaging en blootstelling en die toneel bied aan hulle die geleentheid om voor 'n gehoor op te tree.
|
BASTION CHRISTEN VERENIGING Die Bastion Christen Vereniging (CV) het die vestiging en handhawing van hoë Christelike waardes by die leerders as doelwit. Om hierdie doel te bereik, het ons elke week 'n byeenkoms waartydens verskillende sprekers telkens verskillende onderwerpe rakende Christenskap bespreek. Sonder kennis is geestelike groei nie moontlik nie en om maksimale groei op geestelike gebied te verseker, word leerders se kennis van die Bybel opgeskerp deur gereelde Bybelstudie en Bybelvasvra geleenthede. Die BCV is nie gekoppel aan enige denominasie nie en alle leerders wat belangstel, is welkom om lede te word. Die Doxa Deo-wisseltrofee word jaarliks toegeken aan 'n leerder wat deur sy / haar lewenswandel volgens Bybelse voorskrifte bewys lewer dat God sy/haar eerste lewensprioriteit is. So 'n leerder moet ook 'n getroue BCV-lid wees.
|
REVUE Hoërskool Bastion bied elke twee jaar 'n revue aan. Ons glo aan massadeelname waar elke leerder die geleentheid kry om deel te neem. Daar word op groot skaal gesing en gedans en daar heers 'n heerlike gees onder die leerders. Na weke en weke se baie harde oefening, is die optredes (in asemrowende kostuums) 'n hoogtepunt. Deelname aan die revue is iets wat nie sommer vergeet sal word nie.
|
SKOOLKOERANT Ons amptelike skoolkoerant heet "Het Katje." Leerders van gr 8 - 12 is welkom om by die redaksie aan te sluit. Verskeie portefeuljes is beskikbaar. Redaksielede woon jaarliks kursusse by, wat deur BEELD en die plaaslike media aangebied word. Twee tot drie uitgawes per jaar sien die lig. "Die Kattekwaad" is 'n kleinboetie van "Het Katje" wat by die skool afgerol word en tussendeur verskyn. Skryftalent en 'n liefde vir fotografie sal 'n pluspunt wees vir belangstellendes wat graag op die redaksie wil dien.
|